Paidion Kinderbediening se Geskiedenis

Dr. Van Zyl het die voltydse kinderbediening in Augustus 1995 betree toe hy deur die NG Gemeente Uitenhage-Noord uitgestuur is met opdrag: Kinderevangelisasie na Kinderevangelisasie Beweging SA (KEBSA). Hy is gevra om die Nasionale Direkteur van KEBSA te word. Met die oog daarop moes hy kinderevangelisasie by KEBSA se internasionale hoofkwartier in die VSA gaan studeer (Aug–Nov 1995) en moes hy twee jaar internskap as assistent-Nasionale Direkteur van KEBSA verrig.

Vier maande na sy terugkoms van die VSA is hy egter deur die Hugenote Kollege, die AJK van die NGK en die VGK genader om ‘n kursus in kinderevangelisasie aan die Hugenote Kollege te ontwikkel. Hy het daarop aangedring dat hierdie kursus 1) interkerklik asook 2) ‘n kinderbedieningkursus moet wees (omvattender as kinderevangelisasie). Dis so aanvaar en hy het toe as Hoof: Kinderbediening die eerste Kinderbediening Sertifikaatprogram op tersiêre vlak in Suid-Afrika ontwikkel en aangebied.  Omdat hy KEBSA moes verlaat en slegs ‘n tydelike kontrak met die Hugenote Kollege aangegaan het, ‘moes hy êrens behoort’. Dit is toe en hoe Paidion Kinderbediening op 7 Oktober 1996 gestig is. In wese het dr. Van Zyl hierdie program vir die Hugenote Kollege op ‘n kontraktuele basis vanuit Paidion Kinderbediening ontwikkel en aangebied. Dr. Van Zyl het teen die einde van 1998 nie sy kontrak met die Hugenote Kollege hernu nie.

Hierdie program is in 1999 volledig met van die nuutste navorsing in kinderbediening bygewerk en eksklusief vanuit Paidion Kinderbediening aangebied.

Paidion Kinderbediening het aan die begin van 2000 met die CB Powell Bybelsentrum van UNISA ‘n ooreenkoms aangegaan waardeur hierdie program ‘n geakkrediteerde UNISA-program en Paidion Kinderbediening die Leersentrum was. Die CB Powell Bybelsentrum is aan die einde van 2010 by UNISA toegemaak.

Sedertdien word die kursus weens nasionale wetgewing weer eksklusief vanuit Paidion Kinderbediening as ʼn Kort Leerprogram aangebied, waarna leerders ‘n Bevoegdheidsertifikaat ontvang.

Die kursus is in 2017 weer volledig bygewerk.

Paidion Kinderbediening het sedert 1999 ook deur dr. Van Zyl by die opleiding van voorgraadse en magistergraad teologieleerders aan die Teologiese Fakulteite van die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria en Vista betrokke geraak.

Dr. Van Zyl het sedert Paidion Kinderbediening se ontstaan in 1996 ook reeds meer as 300 kinderbedieningwerkswinkels en -konferensies vir meer as 7000 volwassenes nasionaal en internasionaal aangebied.

Verder het Paidion Kinderbediening kinderkerk/ kategese-/ Sondagskoolmateriaal vir peuters (2-3 jariges), kleuters (4-5 jariges of 2 jaar voor laerskool), juniors (gr 1-3) en seniors (gr 4-6) sedert 2002 ontwikkel en dit ook verskeie kere herontwikkel. Baie aandag is aan die teologiese en opvoedkundige korrektheid aan die dag gelê. Hierdie maeriaal word landswyd met groot vrug in  gemeentes gebruik.

© Copyright - Paidionweb